DEXTER SE PERSPEKTIEF

Hallo daar, my naam is Dexter en ek is ‘n hardwerkende veeartspraktykhond! Ek bly nie permanent hier by die kliniek soos Stefaans die kat nie, maar daag elke dag getrou op vir werk. Daar is ongelooflik baie werk vir my elke dag so ek kan eenvoudig nie wegbly nie.

Watter tipe werk doen ‘n praktykhond dan? Wel, ek het verskeie take wat ek op ‘n daaglikse basis uitvoer.

My agent (sy is ook my Ma en beste vriendin) gebruik my gereeld om advertensies en mooi foto’s vir die praktyk se Facebookbladsy en ook vir haar blog te neem. Natuurlik vereis dit dan van my om altyd in tip-top kondisie te bly so ek volg ‘n streng dieet en oefen ook gereeld. Ek kry gereeld “spa-behandelings” om my hare mooi kort te hou, sodat die kliniek en my agent se kar en huis nie tè vol hare is nie. Soms dink van die kliente my agent het per ongeluk met ‘n grasssnyer oor my gery, maar ‘n week na my behandeling lyk my pels fantasties. Dis maar deel van die lewe as model.

My gunsteling werk is natuurlik om die nuutste bederfies en speelgoed te toets. Ek neem dit uiters ernstig op en as ‘n speelding nie aan my hoë standaard voldoen nie, skeur ek hom binne minute flenters. Daarinteen sal ek my beste toertjies uithaal as ek ‘n bederfie goedkeur. Ek kan die gewone sit, poot gee, lê en wag doen, maar ken ook ‘n paar unieke toertjies soos vleg-tussen-die-bene, gaan soek jou speelding en om bederfies in my mond onder my lip vas te hou totdat my agent sê ek mag dit eet.

Hierdie speelding is ‘n wenner!

Ek is ‘n sosiale vlinder en ken omtrent al die ander honde in die blok. Soms gebeur dit dan dat daar pasiënte inkom wat in my sosiale kringe beweeg. As hierdie pasiënte dan bang is gebruik my agent my as onderhandelaar om te wys dat die weegskaal en die hokke niks is om voor bang te wees nie. So basies is ek ‘n lewensredder. Sonder my gerussteling weet ek nie hoe die personeel die bang pasiënte sou behandel het nie. Ek hou dan ook die personeel fyn dop om seker te maak dat my vriende net die beste behandeling hier by die kliniek ontvang.

Basies kan ek alles doen!

Ek het ook ‘n unieke werk as boksdraer. Ons ontvang elke dag bestellings van ons verskaffers wat in groot bokse afgelewer word. Ek help dan my agent deur die swaar leë bokse vir haar na ons herwinningshok te dra. Gelukkig, as model is my spiere reeds sterk vir hierdie plig.

Bokse is vir my geen probleem!

As ek kinderstemme in die ontvangsarea hoor word ek sommer opgewonde. Daar is die oulikste kinders wat gereeld my poot kom skud en spesiaal vir my kom kuier. Niemand kan so lekker vryfies uitdeel soos klein kinderhandjies nie, en hulle is ook gerieflik net die regte hoogte om stywe drukkies te gee. In my nederige opinie is ek dus ‘n trekpleister vir die kliniek en behoort ek kommissie op hierdie verkope te kry. Ek sal met my agent hieroor moet praat want blykbaar is hulle erg teleurgesteld as ek reeds huis toe is as hulle opdaag. Sulke negatiewe gevoelens moet sekerlik hulle lus om goedjies by ons te koop demp….

Kinders is die beste!

Ek weet dat die personeel ook baie lief vir my is en baie waardering vir my het, want hulle gee gereeld vir my aandag en bederfies. Vir my eerste verjaarsdag het ons selfs ‘n groot partytjie gehou! Ek sit daarom altyd my beste pootjie voor as ek by die werk is en gedra my soos dit ‘n professionele werker betaam.

My partytjie was ‘n reuse sukses!

4 thoughts on “DEXTER SE PERSPEKTIEF”

  1. Ek is sò bevoorreg om Dexter te ken als vriend, en dàt is hy. Mens kan bàie by jou leer, Dexter!! Vriendelikheid en goeie maniere. Ek wens jou baie voorspoed toe in al jou take, ek salueer jou!!! XX

    Like

Leave a reply to Elsie Cancel reply