Ek het laasweek ‘n kort “quiz” geskep om die water te toets en te sien hoeveel mense weet watter kosprodukte wat ons gereeld eet gevaarlik vir jou hond kan wees. Oor die algemeen lyk dit wel of die meeste mense darem weet waar Dawid die wortels begrawe het. Kom ons kyk gou kortliks na die produkte wat ek gebruik het.

VEILIG
Van al die keuses was die volgende items veilig gewees:
Katjiebotter – Dit maak pille gee baie makliker en bevat proteïne, Vit B en E. Maak net seker dit bevat nie Xylitol nie, omdat dit baie giftig vir honde is
Wortels – ‘n Gesonde bederfie vol vitamiene, minerale en vesels, wat gerus gevoer kan word
Piesangs – Sekere diere mag nie piesangs eet nie maar jou hond mag met liefde jou piesang met jou deel
Bloubessies – Dis hoog in antioksidante, vitamiene, minerale, vesels en gelukkig ‘n veilige bederf vir honde
Springmielies – Solank dit nie met botter, sout of ander geurmiddels gegeur is nie, is dit ‘n goeie bron van riboflavien en thiamien
Pynappel – In klein hoeveelhede is dit ‘n voedsame vrug wat jou hond kan eet
Brood – Dit het basies geen gesondheidsvoordeel nie maar hulle kan dit wel eet
Hawermout – Lekker hoog in vesel maar moenie melk en suiker bygooi vir jou hond nie
Seldery – In klein hoeveelhede is dit ‘n gesonde bederfie, maar nie alle honde hou van die smaak nie
Lemoen – Hoewel sekere honde loopmagies kan kry van te veel lemoen is dit veilig en ‘n uitstekende vorm van vitamiene

GEVAARLIK!!!
Die volgende items moet liewer nie vir jou hond gevoer word nie. Met hierdie produkte gaan jy nie noodwendig dadelik ‘n reaksie sien soos met die gif waarmee honde vergiftig word nie, maar meeste van hulle sal oor ‘n lang tydperk orgaanskade veroorsaak wat onomkeerbaar is.
Wyn – Geen alkohol is veilig vir honde nie, so werk maar aan ‘n ander partytjietoertjie as jou bier-drinkende hond die siel van jou braai was
Druiwe – Ook in gedroogte vorm (rosyntjies) kan druiwe tot nierversaking lei wat dodelik is
Kersies – Die kersiepit is die sondebok omdat dit sianied bevat
Skyfies – Te veel sout kan soutvergiftiging veroorsaak waarvan die simptome braking, diarree en aanvalle is
Makadamia neute – Een van die giftigste kosse wat honde kan eet, dit lei tot braking, spierswakheid, hipotermie, spiertrillings en dood
Uie – Dit beskadig die rooibloedselle wat tot anemie lei
Avokadopeer – Bevat ‘n toksien genaamd persin wat by honde respiratoriese probleme veroorsaak
Knoffel – Uiters gevaarlik omdat dit anemie veroorsaak wat tot jou hond se dood kan lei, so neee dis nie ‘n veilige “natuurlike” vlooiafweermiddel nie
Koffie – Honde is baie sensitief vir kaffein omdat dit die senuweestelsel oormatig kan stimuleer en tot abnormale hartritmes en dood kan lei
Suurlemoen – Ook lemmetjie het ‘n gifstof in die skil wat maagprobleme, spiertrillings en swakheid veroorsaak en in erge gevalle lei dit tot lewerversaking en dood
Wees maar altyd bedag op wat jou hond moontlik uit die asblik of onder ‘n kleuter se eetstoel kan gaps om seker te maak dat jou hond nie enige gevaarlike kositems eet nie. Nog ‘n paar noembare produkte wat gevaarlik is, is kaneel, neutmuskaat, sjokolade, rou deeg met gis en koeksoda. As jy onseker is oor ‘n sekere produk is dit altyd veiliger om dit liewer nie te gee nie. Daar is genoeg veilige kos en bederfies sodat mens nie snaakse goed vir jou hond hoef te voer nie. Verder moet enige nuwe kositem in matigheid gegee word. Ons pragtig geteelde hondjies het oor die algemeen baie sensitiewe magies wat sommer vinnig onsteld raak.
