Met die koue front wat ons hierdie winter beleef is daar beslis meer diere wat seer en styf opstaan in die oggend. Dit is dalk moontlik dat jou dier osteoartritis het. Lees gerus verder oor wat osteo-artritis is en hoe jy jou diere kan help as hulle dit het.
WAT IS OSTEOARTRITIS?
Artritis beteken letterlik ontsteekte gewrigte. Die gewrig bestaan onder andere uit kraakbeen. Die kraakbeen is ‘n sagter amper jellie-agtige been wat tussen twee harde bene is. By osteoartritis verweer hierdie kraakbeen wat as skokbreker tussen twee bene optree. Die gevolg is dan dat die harde bene op mekaar skuur wat baie pynlik is. Sodra die bene teen mekaar skuur ontstaan inflammasie. Inflammasie is die woord wat pyn, rooiheid, swelling, hitte en verlies van funksie beskryf.
SIMPTOME VAN OSTEOATRTITIS IN HONDE
‘n Goeie vertrekpunt is om jou hond se gedrag fyn dop te hou. Dis dalk moeilik om veranderings raak te sien omdat dit stadig en stelselmatig erger kan raak. Jou hond gaan nie noodwendig die een dag perfek wees en dan die volgende dag skielik helemaal kruppel loop nie. As jy ‘n ouer hond het help dit dalk om so eenkeer per jaar jou hond se normale gedrag neer te skryf. Hier is ‘n paar dinge waarvoor mens kan oplet:
Is styf wanneer hy opstaan, veral in die oggendkoue
Is nie meer so spelerig soos gewoonlik nie
Onwillig om trappe te klim
Raak agter wanneer hy gaan stap
Wil nie meer speel nie
Is skielik grommerig met hantering – kan selfs hap as ander honde of kinders te naby kom
Verkies lê bo staan of sit
Wil nie meer geborsel of gebad word nie
Lek gereeld sy bene
SIMPTOME VAN OSTEOARTRITIS IN KATTE
Katte is fantastiese toneelspelers. Hulle kan pyn so goed wegsteek dat jy dit dalk glad nie agterkom nie. Dit is meestal baie makliker om die simptome van osteoartritis in honde raak te sien. Jy gaan jou kat dus fyn moet dophou om hierdie soms verskuilde simptome raak te sien:
Slaap skielik baie meer as normaal
Wil nie meer deel wees van geselskap nie
Urineer op vreemde plekke – onwillig om in die sandbak te klim
Is styf wanneer hy loop
Lek nie meer sy lyf mooi skoon nie
Verkies om vanaf ‘n tafel eers op ‘n stoel te spring in plaas van direk grond toe
MOONTLIKE OORSAKE
Ouderdom: Ouer diere is weens natuurlike slytasie van die gewrig meer geneig om osteoartritis te ontwikkel
Oorgewig: Enige ekstra gewig veroorsaak inflammasie en ook ‘n ekstra lading op die gewrigte
Trauma: Die kraakbeen kan weens trauma, byvoorbeeld as die dier deur ‘n kar raakgery is, beskadig wat dan tot osteoartritis kan lei
Geneties oorerflik: Sekere rasse soos Labradors, Duitse Herdershonde, en Persiese katte kry dit meer gereeld as ander rasse weens hulle genetiese samestelling
HOE KAN JY JOU DIER MET OSTEOARTRITIS HELP
Beweging is steeds noodsaaklik! Vir ‘n gewrig om gesond te funksioneer moet dit gereeld beweeg. Dit sorg dan dat daar genoeg voeding en ook genoeg sinoviale vloeistof in die gewrig is. Sinoviale vloeistof is die dik vloeistof in die gewrig wat dit smeer sodat die gewrig gladweg kan beweeg. Swem is ‘n fantastiese oefening vir diere wat sukkel met hulle gewrigte. Die gewrigte kry die beweging wat nodig is om styfheid te voorkom, maar sonder die dier se gewig wat ekstra stremming op die seer gewrigte plaas. ‘n Rustige stappie om die blok elke dag kan ook wondere verrig vir ‘n hond met osteo-artritis. Vir ‘n kat gaan mens ‘n speletjie moet kry waarvan die kat hou om te sorg dat hy elke dag genoeg beweeg.
‘n Sessie by ‘n fisioterapeut kan baie voordelig wees. ‘n Fisioterapeut kan verskeie modules byvoorbeeld hitte, ligterapie ensovoorts gebruik om jou dier se pyn te verlig. Hulle kan ook die gewrigte apart manipuleer en oefeninge gee wat daagliks tuis gedoen kan word.
Aanvullings wat die gewrig ondersteun en ook help met pynverligting bevat meestal ‘n mengsel van glukosamien, chondrien (chondroitin) en omega-olies. Daar is ‘n wye reeks produkte beskikbaar van poeiers en tablette tot olies wat oor die kos gespuit kan word.
Spesiale kos soos Hills J/D bevat reeds die nodige aanvullings wat help met pynverligting en om die gewrigte te ondersteun. Die voordeel hier is dat jou dier in elk geval moet eet en jy dan nie hoef te sukkel met ekstra olies, poeiers of tablette nie. Katte kan veral moeilik wees wat medikasie betref so ek sal eerder met spesiale kos begin by hulle.

Anti-inflammatoriese tablette kan deur jou veearts voorgeskryf word. Dit is veral nodig as die dier se gewrigte baie seer is om die pynvolle siklus soos in die diagram gewys te breek sodat die dier kan verbeter. Onthou net om nooit self menslike pynmedikasie vir diere te gee nie. Dit kan letterlik dodelik wees vir hulle!
Gewigsbeheer is uiters noodsaaklik in die behandeling van artritis. Meeste veeartsklinieke bied programme soos die Hills Petslimmer aan om jou dier te help om gewig te verloor. Dit maak nie saak watter ander behandeling jy vir jou dier kry nie gewigsbeheer is ‘n MOET!
Sorg dat jou diere ‘n lekker warm en sagte slaapplek het sodat hulle nie ekstra seer en styf raak as hulle slaap nie.
Osteoartritis is ‘n baie algemene kwaal by mens sowel as dier en daarom is daar gelukkig ‘n wye reeks hulpmiddels beskikbaar waarmee die simptome beheer kan word. Daar is dus nie ‘n rede dat jou dier met osteoartritis hierdie winter sonder behandeling moet gaan nie.